Olimpiese Somerspele 1956

Spele van die XVIe Olimpiade
Olimpiesespele van 1956

Gehou in Melbourne, Australië
Deelnemende lande 72 Nasionale Olimpiese Komitees
Deelnemende atlete 3 155 (2 791 mans, 364 vroue)[1]
Items 151 in 17 sporte[2]
Openingseremonie 22 November 1956
Sluitingseremonie 8 Desember 1956
Amptelik geopen deur Prins Philip[3]
Atlete-eed John Landy (atletiek)
Beampte-eed (sedert 1972)
Olimpiese vlam Ron Clarke (atletiek)
Vorige Spele 1952: Helsinki (Finland)
Volgende Spele 1960: Rome (Italië)

Die Olimpiese Somerspele 1956 (Engels: 1956 Summer Olympics), amptelik bekend as die Spele van die XVIde Olimpiade, is tussen 22 November en 8 Desember 1956 in Melbourne, Australië, aangebied. Melbourne is verkies bo Buenos Aires, Meksikostad en ses Amerikaanse stede op 28 April 1949 op die 43ste IOK-kongres. Vanweë die Australiese kwarantynreëls kon die ruitersport-wedstryde nie daar plaasvind nie. Hierdie is daarom in Stockholm, Swede, gehou. Daarmee is dit die eerste en tot dusver enigste Spele waarby wedstryde in verskillende lande plaasgevind het. Dit is die eerste Olimpiese Somerspele wat in die Suidelike Halfrond, Oseanië asook buite Europa en Noord-Amerika gehou is. Daarbenewens is Melbourne die mees suidelike stad waar Olimpiese Spele gehou is. Die Olimpiese Winterspele 1956 is in Cortina d'Ampezzo, Italië, aangebied.

Die Olimpiese Somerspele 1956 is deur ag lande geboikot. Egipte, Irak en Libanon het hierdie spele weens die Suezkrisis geboikot, as gevolg van die inval van Israel, Frankryk en die Verenigde Koninkryk in Egipte, nadat dié land die Suezkanaal genasionaliseer het. Terselfdertyd het die Sowjetunie die Hongaarse Rewolusie onderdruk en die Sowjetunie se deelname het tot die boikot deur Nederland, Kambodja, Spanje en Switserland gelei. Die Volksrepubliek China het net twee weke voor die spele se begin hul boikot aangekondig weens die toelating van die Republiek China op Taiwan.[4]

  1. (en) "Factsheet – The Games of the Olympiad" (PDF). Internasionale Olimpiese Komitee. Desember 2017. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 23 Desember 2018. Besoek op 4 Maart 2018.
  2. (en) "Factsheet – The Programme of the Games of the Olympiad" (PDF). Internasionale Olimpiese Komitee. Oktober 2017. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 22 April 2020. Besoek op 4 Maart 2018.
  3. (en) "Factsheet – Opening Ceremony of the Games of the Olympiad" (PDF). Internasionale Olimpiese Komitee. 11 Januarie 2018. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 25 Desember 2018. Besoek op 4 Maart 2018.
  4. (en) "Melbourne 1956 Olympic Games". Encyclopædia Britannica. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 April 2020. Besoek op 4 Maart 2018.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search